Tussen 1978 en 1982 het ons skouergeskuur en vriendskapsbande gesmeë wat vandag, meer as veertig jaar later, nog steeds gekoester en onderhou word. As die laaste jaargroep van die sogenaamde Baby Boomer generasie, het ons 'n geweldige verskeidenheid eras en seisoene beleef.
Ons kinders en kleinkinders ken nie woorde soos "rottang" en "gatvel" nie. Ook nie "kadette" en "diensplig" nie. 'n "Belleryna" wat jou help om 'n geleentheid tussen jou huis en jou weermagkamp te kry, is 'n vreemde konsep. As jy jou huiswerk by die huis vergeet het, kon jy nie jou ma van jou selfoon af skakel nie. Jy moes maar buk en jou pakslae vat. Dit was ons tyd van sunny skies, braaivleis, & Cheverolet.
Ons het na ABBA geluister, maar nie na Chris de Burgh se Spanish Train nie, want dit was verban. Queen het I wanna break free gesing, en dit het baie betekenis gekry in die menasie waar ek in Desember 1983 in 'n snikhete Bloemfontein vasgevang was.
Dit was dieselfde tyd wat sommige van ons Angola binnegedring het met Operasie Askari. Ek was eers ses maande later 61 Meg Bn toe.
Die 1970s en 80s was 'n intense tyd waartydens ons onsself voorberei het vir ons volwasse lewens - en vandag vra ek: Wat hou ons vandag daarvan oor? Wat kan ek en jy vandag wys vir die tyd wat ons saamgegooi was in klaskamers en weermagkampe?
Ek is vandag dankbaar vir die vriendskappe wat van daardie tyd af kom, maar meer nog vir die vriendskappe wat tussen ons ontwikkel het tydens die laaste twintig jaar. Die ongeveer 160 Affies wat in 1982 gematrikuleer het, het nie almal mekaar so goed geken soos wat nou die geval is nie. Daar het na skool 'n broederskap ontwikkel tussen ons, en die vreugdes en medelye wat ons deel in ons goeie en swaar tye het 'n kosbare kleinnood geword.
Laat daar Lig wees!
Francois Barnard - 4 Junie 2022
Hoe sê 'n mens koebaai vir Kat en Heksie? Die twee supermense wat sedert 1980 help vorm het aan my lewe, en aan honderde ander nes ek. Twee mense wat sagte voetspore in jou hart kom trap en dan net deernis agterlaat.
"Barnard! Kom hier!" het Kat streng gesê, sy rottang gevat en my agterstewe aan die brand geslaan omdat ek onmoontlik was in sy klas.
"Francois?" vra Heksie die volgende dag, "hoekom maak jy Mnr Le Roux so kwaad dat hy jou 'n pak slae moes gee? Weet jy hoe sleg het hy daaroor gevoel?"
"Ja, right," het ek gedink, "ek is seker hy het dit geniet om my te foeter."
Maar hy het nie. Dit weet ek vandag.
Ek weet, want sedert ek Affies verlaat het, het ek die Le Roux egpaar as mense leer ken wat hulle oud-Affie leerlinge met belangstelling gevolg het, en altyd bemoedig het. Fanie en Tertia le Roux se nalatenskap is 'n skare oudleerlinge wat aangename herrinneringe koester.
Ek het langs Fanie in die ry gestaan om kos op te skep by ons 30-jaar reünie. Agter die toonbank was 'n jong student van die Tshwane University of Technology. Fanie het hom dadelik herken en op mooi Engels 'n vriendelike en respekvolle gesprek met hom aangeknoop. Ek het besef dat sy invloed op jongmense nie opgehou het toe hy van Affies na TUT toe gegaan het nie.
Sedert ons Affies verlaat het, was Fanie en Tertia by die meeste van ons reünies gewees insluitende twee Kaapse Kelder Kuiers en twee Transvaalse Harlequins Kuiers. Dan was daar die twee geleenthede waar ek en my gesin saam met hulle by die Sun Arena na uitvoerings gaan kyk het. En daardie laaste kuier met Heksie by die De Bruyns se huis! Hoe bevoorreg was ons net nie? Ons kon skouerskuur met mense wat uitverkoop was aan die ideë om jongmense op te bou, te kon lei, en dan vriende met hulle te maak.
En dit is wat Fanie ons in sy toespraak by die eerste Kaapse Kelder Kuier genoem het: Hulle vriende. En dit was nie net woorde nie. Dit het in hulle dade ook uitgekom. Terwyl sy self gebuk gegaan het onder verskeie laste van 'n liggaam wat nie wou saamwerk nie, het Tertia altyd gereed gestaan met bemoedigende woorde vir ieder en elk. Sy wou weet hoe dit met almal gaan. Sy het saamgehuil met die wat deur 'n egskeiding gaan, en saamgelag met die wat die vreugde van kleinkinders ervaar.
By die Sun Arena het Tertia die steil trappe gekyk waarteen ons moes uitklim. "Ek moes vanaand my besem saamgebring het!" het sy gesê. Soms het sy my "Oups" genoem, en ander kere "Wyse ou Gryse," en ek gaan ons WhatsApp geselsies nou mis.
Fanie en Tertia, ek gun julle die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek gun julle die rus en die verlossing van hierdie aardse tentwoning. Ek gun julle God se Teenwoordigheid.
Maar ek gaan julle so mis!

Ons laaste Afrikaanse Taalleerles op 26 Augustus 2017
Francois Barnard – 26 Augustus 2021
En sommerso kom die son toe op vanoggend. So asof gister, 10 Augustus, nie 'n dag van slegte nuus was nie. En sommerso pynig die jig my voet, maar hierdie keer op 'n nuwe plek. Sommerso. My selfoon gons hier op my bedkassie soos wat die bank aankondig dat daar weer tolhektransaksies was. Tolhekke. Hulle gaan vanoggend weer op en af. Motors vloei uit die woonbuurt werk toe. Taxis bring werkers in. Sommerso.
Alles gaan aan soos altyd, maar nie vir Leon nie. Ook nie vir Tiaan nie. Hulle het weggeval oor die langnaweek, en gister het ons die slegte nuus gekry. Sommerso. So asof daar nie geliefdes is wat stukkend is nie. So asof ons fondasies nie geskud het op 10 Augustus nie.
Hulle is net weg.
En ons weet dat ons almal net so kwesbaar is. Nie een van ons kry voorkeurbehandeling as dit by die dood kom nie. Maar ek moet aangaan. Ek moet my personeelvergadering bywoon. Al ruk my hart binne my. Ek moet na 'n perseelinspeksie toe gaan. Sommerso. Ek moet voorraad in Johannesburg gaan haal. Terugkom. Aangaan. Dinge moet gebeur soos dit altyd gebeur – maar sonder 'n Leon en sonder 'n Tiaan.
En ja, die regte antwoorde ken ek ook. Ek weet dat Leon en Tiaan Sy gunsgenote was. Ek weet dat hulle dood kosbaar is in Sy oë. En ek hoef nie die hoekoms en waaroms se antwoorde te hê nie. Ek weet ek kan 'n Sabbatsrus vind in Hom.
En aangaan moet ek aangaan. Want ek is ook 'n Gunsgenoot! En my lewe is kosbaar in Sy oë. Wat ek doen, wat ek sê, wat ek beleef – is ook kosbaar in Sy oë.
Want sommerso is daar genade vir my vir vandag. Daar is vars barmhartighede elke oggend vir my. Sommerso. Sonder dat ek iets verdien. Sonder dat my werkverrigting dit veroorsaak. Blote genade vir my pyn en my hartseer. Sommerso.
Terwyl die hartseer nog daar is, beleef ek dit ten volle. Want dit moet sy werk in my doen. Dit moet die ruimte skep in my vir ander. Dit moet die verstaan bring dat ek nie onverskillig staan teenoor pyn nie. So, ek huil wanneer ek wil, en ek lag wanneer ek kan. En ek laat die rouproses toe sodat ek weer kan heel raak.
Sommerso.
Francois Barnard - 11 Augustus 2021
Liewe Meneer Poerie,
Moet my asseblief nie moer nie?
My boude is gaar,
En my Biologie-taak is nie klaar!
Ek het regtig hard probeer
Maar ek kon dit nie keer
Ek is vyftien, my hormone pla
En my Biologie-taak is nie klaar!
Die Maandag op rooi munisipale vervoer
Het ons innig vir mekaar geloer
‘n Afspraak gemaak maar…
my Biologie-taak is nie klaar!
Met twee baaisiekels, kombers en pieniekmandjie
Het ons Magnoliadal besoek
Dit was pret en ons het baljaar
Maar my Biologie-taak is nie klaar!
Vrydag by die Kleinteater
Het ons vir die Drie Van der Walts geskater
Maar Saterdag was ek weer somber
Oor my Biologie-taak gaan Meneer my donder!
The Jazz Singer het ons Saterdagaand vermaak
En ons wou sing en ons wou dans
Maar op my lessenaar lê vermoeid
‘n Biologie-taak onvoltooid.
Sy is pragtig, sy is mooi
In haar Sondag-beste getooi
Ek het my verkyk aan haar
Maar my Biologie-taak is nie klaar!
Hier staan ek, Meneer, sielsontbloot
My integriteit is in die sloot
Maar ek hoop Meneer sal verstaan
My Biologie-taak is nie gedaan!
Francois Barnard - 5 Junie 2022
Daar ruis uit Pretoria
die roep tot verre trans
van duisende stemme
vir jou, ou Afrikaans!
Dit bind ons tesame,
die naam van ons trou
soos berge so stewig gebou vir jou!
Ons bring jou ons hulde
jou lig sal ons dra
tot ver oor ons wye Suid-Afrika.
Ons staan vir ons Nasie,
ons Taal en ons Land,
gestaal vir die stryd
om jou lig te laat brand.
Ons grootste verlede,
die hede se krag
gee moed en vertroue
vir dit wat daar wag.
Ons bring jou ons hulde,
jou lig sal ons dra
tot ver oor ons wye Suid-Afrika.
In ons skool gee ons die ereplek aan God en streef die Christelike lewensbeginsels na. Ons is dankbaar vir die talente wat ons van God ontvang het en wens dit aan tot Sy eer. Ons streef daarna om hulpvaardig te wees en om te dien.
Ons gehoorsaam en eer ons ouers en onderwysers en gedra ons hoflik teenoor alle mense, veral teenoor dames en ons meerderes. Ons woord is ons eer. Ons glo in selfbeheersing, selfdisipline, nederigheid en lojaliteit.
Ons dien ons skool getrou en handhaaf sy goeie naam met woord en daad. Ons hou onsself en ons omgewing rein en skoon. Ons staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land.